Veiligheid begin by jou

0

Baie is al gesê en geskryf omtrent hierdie onderwerp en sal seer sekerlik nog gedoen word ook, veral in ons land met sy kronies-slegte veiligheidsituasie, wat by die dag net meer agteruitgaan.

Individueel gesien, is hierdie legio verskillende dinge genoeg om mens taamlik deurmekaar te maak, maar begin eerder hier te kyk na Veiligheid en Sekuriteit as ‘n geheelbeeld en as ‘n omvattende konsep. Geleerdes praat deesdae van “Laagbeskerming”, individuele punte wat almal saamgevoeg, mekaar aanvul en ondersteun om effektief te werk en oor ‘n groot gebied, soos byvoorbeeld ‘n Plaas se uitgestrekte opppervlakte, as eenheid te funksioneer. Ons het alreeds in 1999 die eerste keer, ‘n laagbeskermingsplan gepubliseer en ter tafel gelê wat al in hierdie behoeftes voorsien, en wat ons nou in breë trekke hier sal bespreek. Daarin is ‘n aantal basiese punte vervat wat mekaar almal op omvattende en ge-integreerde wyse bystaan om ‘n effektiewe, 3-laag, “Ring-Kring” van veiligheid om enige Plaas of groep Plotte te vorm.

1. Waar begin Veiligheid? Veiligheid begin by jouself! Moet nie vir enigiemand anders, enige instansie, of ander groep wag om dit vir jou te kom doen nie, jy gaan klaaglik teleurgesteld word. Sluit aan en ondersteun jou lokale Plaaswag, Buurtwag, GPF ensovoorts. Waar daar nog nie sodanige strukture in jou omgewing bestaan nie, skep hierdie tipe strukture onverwyld en aktiveer hul onmiddelik!

2. Veiligheid begin alreeds by jou Plaashek, teenaan die Hoofpad, jou eerste linie van verdediging gelee in die tersiêre sone, verste van die Opstal af! Maak jou plaas die spreekwoordelike “No-Go” area, waar niemand goedsmoeds en sonder afspraak, of goeie rede, kan betree en toegang verkry nie! Weet as iemand deur jou Hoofhek beweeg op pad Opstal toe dmv. ‘n vroegtydige waarskuwingstelsel, bestaande uit ‘n wag op die hoogste punt op jou eiendom of elektroniese middele versteek by die hoofpad, en wees voorbereid op enige besoekers, welkom of aldan nie!

3. Beweeg vandaar af na jou Bottelnekke, enigiets wat gebruik kan word of behulpsaam kan wees in die ondersteuning en toepas van hinderlae: ‘n driffie of rivier, enkelvoertuigbruggie of dalk ‘n beboste area of plantasie teenaan jou plaaspad wat as wegkruipplek vir kriminele-in-afwagting kan dien! Snoei sulke plantegroei terug, verander die uitleg en opset daarvan of skep ‘n alternatiewe roete om misdadigers te fnuik! ‘n Sekondêre roete tussen die woning en hoofpad, of alternatiewelik dan tussen aangrensende plase, is nie net ‘n goeie idee nie, maar ook ‘n praktiese een wat jou lewe in ‘n noodsituasie kan red en ook die reaksietyd van hulpverleners sal bespoedig! Altyd ‘n wen-wen situasie…

4. Indien enigsins moontlik, skep jou eie Interne Sekuriteit-struktuur of wagstelsel, dienend as ‘n tweede linie van verdediging. Gebruik lede van jou eie familie of enige bure s’n, wat teen ‘n vorm van vergoeding vir jou en enige ander buurplase kan ondersteun met algemene veiligheid en sekuriteit. Gebruik sovêr moontlik slegs goed opgeleide persone of dan die met baie jare se ondervinding, tipies parate manne behendig met vuurwapens, verkenning, kommunikasie, selfverdediging, noodhulp en mense wat van nature op en wakker is, nie heeldag met hul neuse in hul Selfone vasgevang sit nie! Hierdie Interne Wagte, sal algemene ondersteuning bied en ook as eerste respondente optree in noodgevalle, terwyl offisiële strukture nog op pad is na die nood-toneel toe. Ook kan hulle vroegtydige waarskuwing van beide gevaar, en brande gee en kan hoogs effektief as stopper- en reaksiegroepe optree om aankomende aanvallers af te weer of dan wegvlugtendes in te haal en te arresteer.

5. Nou volg Rondombeskerming van die woonhuis en nabygeleë strukture, jou derde linie, in die sekondêre gebied rondom die huis: Van opperste belang hier, is ‘n dubbel-heining rondom die woning met honde tussenin of alternatiewelik een omheining in 2 tot 4 kampe verdeel, met honde in elke kamp! Dit kan dan verder aangevul word met CCTV-kameras en buite-straal Sensors, soos jou begroting toelaat. Jou woongebied kan maklik in ‘n spreekwoordelike “Fort Knox” omskep word deur ‘n Elektriese heining, stel Buitesensors en die huis se Alarmstelsel alles aan ‘n SMS-kommunikator te koppel om jou, enige bure en die Plaaswag vroegtydige waarskuwing te gee van probleme. So sal ‘n tipiese SMS-waarskuwingstring, van “Heining-alarm” plus “Buitesensor-alarm”, gevolg deur “Huis-alarm”, onteenseglik en daadwerklik dui op inbrekers of aanvallers wat besig is om in te breek. Nou kan jou interne wagte, of die lokale Plaaswag, onmiddelik geaktiveer word binne enkele minute, wat jou outomaties gewapende ondersteuning bring en ook ongelooflike baie reaksietyd gaan spaar.

6. Binne die Woning se vier mure, jou primêre gebied en laaste linie van verdediging: ‘n Alarmstelsel; nog honde; hekke en diefwering; kameras indien nodig; vroegtydige waarskuwingstelsels gekoppel aan die buitegeboue, ens, ens. Steek ook jou kluise weg en koppel dit aan die alarmstelsel, en breek jou ongebruikte jag- en vuurwapens op deur die loop of grendel te verwyder en apart toe te sluit, ensovoorts. Leer kinders van kleins af selfverdediging, noodhulp en vuurwapen-behendigheid en ook goeie kommunikasie. Skep ‘n persoonlike nood-plan, pasgemaak vir jou en jou gesin se omstandighede en oefen dit gereeld in totdat dit tweede natuur is en die huismense dit toe-oë kan uitvoer! Nie net sal dit jou gesin se algehele paraatheid verbeter nie, maar ook enige lede, groot of klein, se selfvertroue algemeen bevorder en eendag, heel waarskynlik, verskeie lewens spaar…

7. Sentraal aan enige effektiewe program is natuurlik goeie Kommunikasie, iets wat gewoonlik gruwelik afgeskeep word in meeste praktyke! Leer om effektief en duidelik te kommunikeer! Leer groter kindertjies van kleins af al radio-protokol, telefoon-etiket en die fonetiese alfabet. Dit is ongelooflik hoe byvoorbeeld, moderne, minderjarige Ham-operateurs die grootmense van vandag met baie jare se ondervinding, ore aansit: Hulle staan vir niemand terug nie! Kry en oefen ‘n alternatiewe vorm van kommunikasie in, sou die gewone Selfoon-netwerk faal of gesaboteer word. Behou deurentyd goeie kommunikasie met die woning en wagte. Gebruik kodewoorde vir sensitiewe inligting en ligging-weergawes, oftewel wanneer jy jou posisie weergee! Vanaf Donderdagaande tot en met Maandagoggende, wat statisties as die gevaarlikste tyd vir plaasbewoners bewys is, moet geen huisbewoner êrens alleen heen gaan nie, deurentyd radiokontak behou en ten minste elke 30 minute sy/haar ligging weergee! Ook moet jy uiters goed gewapen wees en altyd vergesel van ten minste een wag of ander familielid en natuurlik ook 2 of meer kwaai honde! Reisende familielede op pad dorp toe of terug, veral dames, word ten sterkste aanbeveel om WhatsApp se “Pindrop” funksie te gebruik en so ook Zello s’n, sowel as Zello se wonderlike tweerigting-radio fasiliteit om kommunikasie te behou en opdaterings te plaas. Sodoende is maklike ligging-bepaling verseker en word reaksietyd in noodgevalle bespoedig, aangesien die Plaaswag dan klaar weet waar jy jou bevind en nie wilde soektogte na jou op tou hoef te sit nie.

Afsluiting:
Geen verskoning vir die vêrdere uitstel of afstel van veiligheid- en sekuriteitsverbeteringe is aanvaar nie! Maak nou ‘n plan en skerp jou veiligheidstrukture daadwerklik op! Die ou verskoning van “Ek het nie nou geld nie” word gereeld ge-uiter deur mense, beide in die stede en op plase. Kyk eerder wat op die erf rondlê soos byvoorbeeld motorwrakke, avfal-ysterstukke en enigiets soortgelyk wat as skrootmetaal verkoop kan word om jou veiligheidsbehoeftes sodoende te finansier. Jy kan ook baie maklik jou eie alarms en sensorkringe bou met parte wat geredelik beskikbaar is op enige plaas! Vir planne en idees hieromtrent sowel as ‘n paar ander interessante dinge, kontak ons gerus vir skakels na die nodige Groepe en Blaaie, waar gratis hulp, raad en wenke op ‘n daaglikse basis gegee word.

Beste wense en veiligheid eerste!

Geskryf deur:L du Toit


20th October 2017 |

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

SAUK.co.za – Powered by Inspan.
Skip to toolbar