Beskerm jouself só teen grondbesetting

0


Grondbesetting op munisipale én landbougrond is opnuut ‘n bedreiging te midde van verwikkelinge rondom onteiening sonder vergoeding.

Die veiligheid van boere en hul besighede word deur meer as plaasaanvalle en veediefstal bedreig. ’n Grondbesetting op ’n boer se grond kan groot skade berokken of selfs die einde van die boerdery beteken.Grondbesettings, saam met plaasaanvalle en -moorde, is moontlik die grootste bedreigings vir Suid-Afrikaanse boere.

Nes plaasaanvalle is grondbesettings ’n polities gelaaide onderwerp. Aan die een kant is individue en organisasies, soos die EFF en sy leier, mnr. Julius Malema, asook die Black First Land First-beweging en sy leier, mnr. Andile Mngxitama, met uitlatings wat neerkom op dreigemente en selfs haatspraak.

Aan die ander kant staan diegene wat glo dat Suid-Afrika bestem is om in Zimbabwe te ontaard. Dié bespiegelings tel spoed op sedert die onlangse verwikkelings rondom onteiening sonder vergoeding.Die boer se uitdaging is om deur die kakofonie van konflik en luide stemme te kyk, op nugter wyse die moontlikheid van grondbesettings op sy plaas te beoordeel en homself, sy gesin en boerdery daarteen te beskerm.

Wees realisties
Die invloed van Malema en Mngxitama se oproepe om grondbesettings moenie onder­skat word nie. Hoewel hul geloofwaardigheid onder die publiek ondermyn is deur onder meer Malema se eens noue verhouding met voormalige pres. Jacob Zuma en Mngxitama se twyfelagtige bande met die Guptas, het albei steeds groot invloed onder gemarginaliseerde, arm Suid-Afrikaners, wat vatbaar is vir populistiese uitsprake.

Volgens mnr. Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, was dié burgerregte-organisasie reeds betrokke by voorvalle waar grondbesetters beweer het hulle is deur Malema afgevaardig om grondbesettings uit te voer. Ian sê grondgrype is aan die toeneem.

“Dit is miskien nie in ’n groot mate op kommersiële boere se plase nie, maar selfs buite die grondhervormingkwessie is grondgrype besig om te gebeur.

“Kyk na wat op munisipale grond gebeur. Dit is ’n krisis reg oor die land en dit is moeilik om in die howe bevindings te kry wat in die guns van grondeienaars tel.” Ian sê ook grond word ter wille van politiekery misbruik. “Baie keer word grond as ’n token gebruik om beskuldigings rond te gooi. Die geskiedenis van grondeienaarskap word geheel en al verdraai. Die tipiese Black First Land First-redenasie is dat wit mense grond gesteel het en dit word gebruik om polarisasie in gemeenskappe aan te moedig.”

Wetgewing
Te midde van dié vuurwarm situasie sal dit wys wees om die wetgewing wat van toepassing is op grondbesettings, te verstaan én om te weet watter beskerming wetgewing aan die grondeienaar bied. Verskeie wette en oortredings is ter sprake. Die volle wetgewing kan nie hier bespreek word nie, dus is dit belangrik om jouself te vergewis van die presiese besonderhede.

Die artikel verskaf egter ’n beginpunt om die raamwerk te verstaan. Die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, ook bekend as Esta) geld vir persone wat voorheen toestemming gegee is om op grond te bly. Die wet is slegs van toepassing op landbou­grond en is tipies in gevalle waar werkers en/of hul familielede vir ’n boer werk en toestemming het of gehad het om op die grond te woon.

Esta-wetgewing maak voorsiening vir die beëindiging van die inwoner se verblyfreg, maar die beëindiging van die ooreenkoms moet regverdig en billik wees. Boere wat in ’n situasie is waar ’n okkupeerder se verblyf­reg tot ’n einde gekom het, kan ’n hofbevel bekom om die persoon van sy grond af te sit. Dit is ’n misdryf om ’n okkupeerder in dié situasie sonder ’n hofbevel van grond af te sit. Betreding: Die beginpunt van grondbesetting is telkens betreding op jou eiendom.

Die Wet op Oortreding (Wet 6 van 1959) het hier betrekking. In die meeste situasies behels dit ’n persoon of groep wat sonder toestemming jou grond betree. Dit is telkens ook die wetgewing wat die polisie die beste verstaan. Die waarskynlikheid is groot dat die polisie eerder sal optree in eenvoudige gevalle van betreding as met meer ingewikkelde situasies rakende verblyfreg op plase.

In gevalle van betreding kan die polisie ingeroep, ’n verklaring afgelê en die betreders kan in hegtenis geneem word – mits besetting nie plaasgevind het nie. Die Wet op die Voorkoming van Onwet­tige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Wet 19 van 1998) bepaal die prosedure wat gevolg moet word om onwettige okkupeerders van grond af te kry.

Dit geld vir betreding op alle grond. ’n Persoon wat dié wet oortree, okkupeer grond sonder uitdruklike of geïmpliseerde toestemming, of sonder enige wetlike reg om die grond te okkupeer. Die knelpunt van dié wet is wat die verskil tussen okkupasie en betreding is. Okkupasie geskied indien die persoon ’n gebou of struktuur, wat reg is vir bewoning, opgerig het.

Volgens die wet se definisie is ’n gebou of struktuur enige hut, sinkhuis, tent of soortgelyke struktuur of enige vorm van tydelike of permanente woning of skuiling. Vorige hofbeslissings het die implikasie van dié wet so verfyn dat die hof enige struk­tuur as ’n woonstruktuur sal sien.

Dit is die bedoeling van die oprigting van die struktuur wat dié wet van toepassing maak. Dit beteken ook dat selfs al word die struktuur nie tans bewoon nie, okkupasie en dus besetting reeds plaasgevind het. ’n Hofbevel is nodig om besetters van jou grond af te kry.

Hofsake
Volgens Ian is dit van groot belang om ’n situasie te voorkom waar strukture opgerig is en besetting dus plaasgevind het. “Dit is ’n uiters moeilike en duur proses om mense van jou grond af te kry as hulle reeds ’n mate van verblyfreg gekry het.” Blitsige optrede is belangrik, asook kennis van jou regte in dié situasie.

“Jy moet onmiddellik ’n betredingsaak by die polisie gaan aanmeld. Hulle is veronderstel om die persoon te verwyder. Indien jy ’n saak gemaak het en die polisie weier of is traag om op te tree, kan jy regshulp inroep sodat die hof ’n bevel kan uitreik om die persoon te verwyder.”

Die regsproses duur egter lank en om dit op jou eie aan te pak, is duur. Hulp is beskikbaar deur organisasies wat grondeienaars bystaan, soos AfriForum. Die polisie is telkens traag om teen grondbesetters op te tree, wat sake vir grondeienaars baie bemoeilik.“Die polisielede bly dikwels in dieselfde gemeenskappe as waar die besettings plaasvind,” sê Ian.

“Hulle wil nie deur hul gemeenskap as verraaiers gesien word nie. Daar is ook ’n massiewe probleem met onkunde oor die betrokke wetgewing en eiendomsreg oor die algemeen.” Ian sê AfriForum bied soms seminare by die polisie aan om onkunde oor eiendomsreg teen te werk.

Plofbare situasies
Die veiligheidsrisiko in gevalle van grondbesettings is ooglopend. Konflik kan maklik tussen die grondeienaar en besetters ontstaan, veral wanneer politieke opswepery die rede vir die besetting was. Grondbesettings is net nóg ’n rede hoekom dit belangrik is vir boere om tot ’n gebiedsbeveiligingsnetwerk te behoort. Dit is baie moeilik om dié situasies op jou eie aan te pak, veral as jy nie deur die polisie ondersteun word nie. Dit is ook belangrik om pro-aktief op te tree.

“Ons het ’n geval gehad in Witrivier, Mpumalanga, waar lede van die EFF gesê het hulle gaan ’n stuk grond vat. Ons het voor die tyd inligting gekry en presies geweet hoe laat die groep waar gaan wees,” sê Ian.

“Gemeenskapsbeveiligingstrukture is geaktiveer en het op die toneel vir die grondbesetters gewag. Die polisie was ook teenwoordig. Die leier van die groep het van die bus af geklim, rondgekyk en maar weer teruggeklim en gery. Daar was ’n sterk boodskap van die gemeenskap dat besettings nie geduld sal word nie.”

Grondbesetting in die Oos-Kaap

Die Featherstones wat in die distrik Queenstown in die Oos-Kaap boer, het in 2017 heelwat geleer uit ’n voorval van grondbesetting op hul grond. Me. Jeanné Featherstone sê die sleutel tot die ontlonting van die situasie is dat hullekalm gebly en konfrontasie met die besetters vermy het.

Sowat 15 mense was by die besetting betrokke. “My man het nie die hele groep gekonfronteer nie, maar vir hulle gevra om ’n paar mense te stuur om met hom te praat. Hulle het na ons plaashuis gekom en ons het hulle in die kombuis ontvang en rustig rondom ’n tafel gesit en praat,” sê Jeanné.

Volgens Jeanné het die polisie in groot getalle op die besetting reageer, wat die situasie heelwat meer hanteerbaar gemaak het. Haar man het later ongewapen na die toneel gery en sy bure gevra om op hul eie plase in die omgewing op bystand te wees.

Ná die aflê van die verklaring, wat ’n vereiste is voordat ’n klag van betreding gelê kan word, het die polisie die groep in hegtenis geneem. Jeanné se raad aan boere in ’n geval van betreding is om kalm te bly en die betreders so vinnig moontlik van jou grond af te kry.

Sy sê hul gesin se goeie verhouding met hul werkers het ook ’n rol gespeel. ’n Goeie verhouding met die bure, veral in gebiede met kommunale boere, kan ook nie seermaak nie.

Deur:Landbou.com


16th March 2018 |

Leave a Reply

SAUK.co.za – Powered by Inspan.
Skip to toolbar