Hou jou gesin veilig, paraat met dié wenke tydens die fees seisoen

0

In Suid-Afrika is ons almal voortdurend bewus van moontlike gevare wat om elke hoek en draai lê en wag, en elkeen was al direk of indirek deur misdaad geraak.

Baie van julle het alles moontlik gedoen om veilig te wees, maar was steeds slagoffers. Julle weet dus dat geen voorsorgmaatreël ʼn waarborg is nie. Dit is egter steeds belangrik om te verseker dat elkeen oor die kennis beskik om sy of haar omgewing te beveilig.

Marius Swart van die Harrismith Buurtwag sê jy moet kyk, luister en bewus wees van jou omgewing.  Rapporteer enigiets wat jou ongemaklik laat voel aan die polisie, jou sekuriteitmaatskappy en jou bure.  Maak werkers bedag daarop dat hulle ook by jou huis aangeval kan word en dat hulle enigiets verdag moet opmerk en dan rapporteer.

Basiese veiligheidsmaatreëls wat almal kan toepas:

  • Maak seker dat jou huis veilig toegesluit kan word.
  • Indien jou sleutels wegraak, vervang die slotte en kry nuwe sleutels.
  • Sorg vir goeie beligting by jou deure, en maak seker dat jy weet wie buite is voordat jy oopmaak.
  • Ken jou bure. Ruil foonnommers uit, en hou ʼn ogie oor mekaar se huise.
  • Indien jy vermoed dat daar iemand op jou erf is, moenie uitgaan en self ondersoek instel nie. Laat jou bure en die polisie weet, en druk die alarmknoppie van jou sekuriteitsmaatskappy.
  • Sluit aan by jou plaaslike polisieforum of buurtwag.
  • Sorg vir genoeg sekuriteit, bv. diefwering, ʼn alarmstelsel, veiligheidsdeure en veiligheidsomheining.
  • Ken alle noodnommers. Leer jou kinders hoe om hierdie nommers te bel.
  • Moenie jou motorhuis en voor- of agterdeur oop los nie.
  • Moet nooit sleutels in deure los nie, en sorg dat jou deure te alle tye gesluit is.
  • Indien daar by jou huis ingebreek is, vervang die slotte.
  • Boor ʼn gaatjie aan die bokant van die skuifdeur en deurraam en druk ʼn sterk spyker of staalpen daardeur. Dit kan verhoed dat inbrekers met iets soos ʼn skroewedraaier die deur uitlig.
  • Sorg dat jou gordyne saans toegetrek is sodat niemand van buite af tot binne-in jou huis kan sien nie.
  • Beligting buite: gebruik dit tot jou voordeel. Ligte wat buite aan is terwyl dit binne jou huis donker is, stel jou in staat om buite dop te hou terwyl iemand van buite nie by jou huis kan insien nie.
  • Kry vir jou honde, en laat een binne- in jou huis bly.
  • Moenie tuingereedskap of lere buite los nie. Dit is gereedskap wat diewe vir ʼn inbraak kan gebruik.
  • Voordat jy iemand in diens neem, doen eers ʼn agtergrondondersoek.
  • Wanneer jy by jou huis stilhou, kyk eers deeglik rond. As jou honde vreemd optree of nie na die hek toe kom nie, moet dan nie ingaan nie.
  • Moenie waardevolle artikels naby ʼn oop venster of deur laat nie.
  • Kry ʼn maat met wie jy gereelde kontak kan hê om seker te maak dat julle albei te alle tye veilig is. As een van julle dan skielik nie bereik kan word nie, sal die ander dadelik onraad vermoed.
  • Selfverdedigingsklasse is ’n wonderlike idee vir die hele gesin.
  • Beloon jou werknemers vir bruikbare inligting wat misdaad kan voorkom.

Elke gesin moet ʼn veiligheidsplan hê sodat gesinslede presies weet wat om te doen indien hulle aangeval word. Moet egter nie in vrees en bewing leef nie. Maak jou kinders bewus van sekuriteit, maar hulle moet steeds veilig voel. Laat ons saamstaan om ʼn vreeslose nageslag te bou.


8th December 2017 |

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

SAUK.co.za – Powered by Inspan.
Skip to toolbar